KERNWAARDES

Ons gemeente se embleem

‘n Bootjie op water is een van die bekendste Christelike simbole. Dit herinner mens aan Noag se ark, Jesus saam met sy dissipels op die meer van Galilea en aan Paulus wat tydens sy sendingreise dikwels per skip gereis het.

Waarskynlik die duidelikste boodskap van die bootjie is dat ons glo dat die Here ons nie in die veilige hawe anker nie, maar soos Paulus oor grense na ander stuur. Ons word gestuur om geloof, hoop en liefde – die drie Christelike deugde – met woorde en dade uit te dra.

Dat die Heilige Gees soos die wind waai, is ‘n bekende Bybelse beeld wat by die bootjie-beeld inpas. Dit beklemtoon die ons perspektief op die Bybel; dat dit gaan om God se liefdesbeweging – sy naam, wil en koninkryk - en dat ons deel daarvan moet word en nie andersom nie. Die water onder die bootjie is in Bybelse beeldspraak ‘n aanduiding van die realisme dat die lewe vol onsekerheid is. Te midde van die onsekerheid is ons op reis na waar die Gees ons neem…

Ons begin by die jeug...

En vergeet nie die oueres nie

Ons Kernwaardes

Op grond van die Bybel en die Belydenisskrifte, is die volgende geloofsuitgangspunte en -waardes tans vir ons gemeente van groot betekenis en ‘n uitdrukking van ons gemeente-identiteit:

1. Ons glo God is soos Jesus Christus Hom aan ons bekend gemaak het. Hierdie geloof in God wat vol genade en liefde is, maak ons vry van ‘n wettiese godsdienstigheid en ‘n krampagtige lewensuitkyk. Ons geloof in God vul ons lewe met dankbaarheid en vreugde. 

2. Ons glo dat God deur sy Gees by ons teenwoordig is en gewone mense in sy diens betrek. Hierdie geloof in God se werksaamheid roep ons tot verantwoordelikheid om onsself diensbaar te stel. Dit vra van ons uitnemendheid wat betref musiek, liturgie, die nadenke oor ons geloof en die tyd wat ons vir geloofsake afstaan.

3. Ons glo dat God mense inspireer om sy getuies te wees. God se algemene genade aan alle mense bring mee dat ons sensitief sal luister na alle menslike uitinge waaronder kunswerke. Die getuienis wat in Die Bybel versamel is, bevat vir ons die grondwaarhede oor ‘n lewe voor God en met ons naaste. Daarom respekteer ons die Bybel se historiese aard, die eiesoortige waarheidsbegrip, die verskillende literatuurtipes asook die lewensomkerende appèl wat dit op ons maak.

4. Ons aanvaar die boodskap van die Bybel. Ons het as mense ‘n bewarende verantwoordelikheid teenoor God se skep--ping en ons verhoudinge met ander mense is net so belangrik as ons verhouding met God.

5. Ons aanvaar dat God aan ons geloofsgemeenskap die deugde van geloof, hoop en liefde skenk. Omdat ons begenadigde sowel as sondige mense is, moet ons voortdurend stry teen God-onterende en onegte uitinge van geloof, hoop en liefde.

6. Ons aanvaar dat elke mens uniek is. Daarom skep ons optimaal ruimte dat ‘n verskeidenheid van ouderdomme, persoonlikheidstipes en spiritualiteite in ons geloofsgemeenskap kan tuis kom sonder dat die ander elemente van hierdie gemeentebelydenis weerspreek word.

7. Ons erken dat die wetenskap en die geloofsbronne – mits dié bronne volgens eie aard verstaan word – mekaar nie weerspreek nie. Vanuit ons verwondering aan God beoefen ons die roeping om kultuur en wetenskap uit te bou.  

8. Ons erken dat ons voorregte nie ‘n rede is tot ‘n skuldgevoel of ‘n houding van meerwaardigheid nie. In die Gees van Christus se liefde is ons diensbaar om oor gemeentegrense ander te bemagtig en ‘n volhoubare verskil in nood-situasies te maak. Ons ly saam met dié wat ly. Ons bly ook ontvanklik vir ander se gawes en is bereid om te groei en te ontwikkel. 

9. Ons erken dat ‘n geloofsgemeenskap uit gewone mense bestaan en daarom aan die spanninge van tussenmenslike verhoudinge onderworpe is. Daarom moet hierdie gemeenskap daadwerklik in stand gehou en uitgebou word terwyl ons ook deurentyd sorg dat ons bedienings- en bestuurstruktuur duidelik is, dat mag versprei is, besluitneming deursigtig is, gespreksvoering oop bly en botsende belange vroegtydig geïdentifiseer en met wysheid bestuur word.

10. Ons stem saam dat ons roeping ook inhou om te onderskei wat in ons tyd van deurslaggewende belang is. God se gawe van eenheid, geregtigheid en versoening is tegelyk ook die opdrag van God waarvoor ons opofferinge as geloofs-gemeenskap in hierdie tyd in ons land moet maak.

U kan 'n afkrif van ons kerk se 2011 Jaarverslag aflaai. Kliek hier.

Kliek: Terug na ons tuisblad

Skakel ons gerus: Tel 012-460 3913. E-pos KLIEK HIER.